Skip Navigation Links   Skip Navigation LinksHome > Legal updates > Article
Vir elke pot sy deksel, vir elke boedel 'n eksekuteur
by Wynand Prins & Wilani Voges
Published 2006/11/24 12:00:00 AM (Viewed 659 times)

Daar’s diegene wat reken jou bankbestuurder is die persoon by wie jy die mooiste broodjies moet bak. Ander weer, sê dis jou motorwerktuigkundige of tandarts. Min van ons gee ooit werklik aandag aan die persoon wat moet toesien dat jou laaste wense presies, deeglik en volgens voorskrifte uitgevoer word.
 
Ongeag of iemand met ’n geldige of ongeldig testament óf sonder een te sterwe kom, die adminstrasie van alle boedels word deur ’n eksekuteur hanteer.

In die geval van ’n geldige testament, is die eksekuteur gewoonlik iemand wat deur die oorledene benoem is en ná ’n skriftelike aansoek deur Meester van die Hooggeregshof aangestel word. En is daar nie so ’n benoeming in die testament nie – of die testament is ongeldig of bestaan nie – benoem die erfgename een.

Dit kan selfs gebeur dat die Meester meer as een eksekuteur vir ’n boedel aanstel, byvoorbeeld wanneer die onderskeie erfgename verskillende mense vir hierdie rol verkies.

Maar wat kan jy, as ’n erfgenaam, van ’n eksekuteur verwag? Wat is sy presiese rol en funksie?

Alle boedels moet by die Meester aangemeld word, en die eksekuteur se take begin met ’n vergadering met die naasbestaandes om die nodige dokumentasie te voltooi. Dit moet so spoedig moontlik ná die afsterwe gebeur en van die inligting wat vir die dokumente nodig is, sluit onder meer in die sterftekennisgewing en ’n inventaris van die oorledene se bates.

Sodra die Meester die eksekuteur formeel aanstel, is hy verplig om kennisgewings te plaas vir partye wat moontlik enigiets teen die boedel wil/kan eis. Eers dan kan hy begin om inligting bymekaar te maak oor al die bates en laste in die boedel en ’n boedelrekening opstel.

Dié rekening is onder meer ’n volledige uiteensetting van hoe al die bates, ingesluit kontant, en die laste in die boedel hanteer is; die verdeling van die netto bates (ná alle skulde betaal is) volgens die bepalings eie aan die soort boedel; en, die toepaslike boedelbelasting.

Die eksekuteur behoort hierdie proses binne ses maande ná sy aanstelling af te handel. En indien hy dit nie betyds kan doen nie, moet hy skriftelik by die Meester aansoek doen om uitstel – met ’n uiteensetting van sy planne hoe om die indien van die rekening te bespoedig.

Wanneer die eksekuteur tevrede is dat die boedelrekening korrek is, dien hy dit by die Meester in en plaas ’n advertensie in die plaaslike koerante dat dit vir ’n periode van 21 dae beskikbaar is vir insae. In hierdie tyd het enigiemand toegang tot die dokumente en kan hulle, indien geregverdig, beswaar maak daarteen.

As daar geen besware is nie, is die eksekuteur verplig om onverwyld voort te gaan om skuldeisers te betaal en die boedel onder die erfgename te verdeel.

Eksekuteurs se fooie is ook – tensy in die testament gespesifiseer, wat selde gebeur – onderhewig aan wetgewing, spesifiek die Boedelwet No 66 van 1965. Hiervolgens is hy geregtig op vergoeding teen 3,5% van die bruto waarde van die oorledene se bates by afsterwe en ’n verdere 6% op alle nadoodse inkomste wat gevorder is.

Hoewel die formaat van en vereistes vir ’n testament eintlik eenvoudig is, word professionele advies sterk aanbeveel. Só kan jy verseker dat alle moontlike implikasies – van belasting tot praktiese uitvoerbaarheid – gedek word en die testament ten volle geldig is en in die beste belang van jou geliefdes en ander erfgename.




 
Use of this website is subject to our terms of use.
Website by Connexity