Skip Navigation Links   Skip Navigation LinksHome > Legal updates > Article
Nuwe Drankwet – onthou aansoeke om hersiening!
by Danie Cronje
Published 2005/09/15 12:00:00 AM (Viewed 659 times)

Produsente wat reeds kennisgewings aan die owerhede ingedien het vir die omskakeling van hul groothandel- en ande dranklisensies, moet besef dat dei saak nog nie hiermee afgehandel is om aan die nuwe Drankwet te voldoen nie. Hulle móét nog steeds voor 13 Augustus aansoek doen vir ʼn "hersiening van die voorwaardes waaronder hull drank mag vervaardig en versprei.
Konsep-drankwet vir Wes-Kaap voor die deur
 
Tot 13 Augustus 2004 het die "Ou Wet (Drankwet, 27 van 1989) die verkope van drank deur wynprodusente gereguleer - op welke datum die "Nuwe Wet" (59 van 2003) in werking getree het.
 
Die Nuwe Wet reguleer die vervaardiging en verspreiding van drank, uitgesonder die aktiwiteite van mikro-vervaardigers (vervaardigers wat minder as 4 miljoen liter per jaar vervaardig).
 
Ingevolge die Nuwe Wet mag elke provinsie sy eie provinsiale drankwet promulgeer om die aktiwiteite van mikro-vervaardigers en ook die kleinhandelverkope en verbruik van drank te reguleer. Maar tot tyd en wyl elke provinsie sy eie drankwet in werking stel, bly die bepalings van die Ou Wet van krag vir die kleinhandelverkope, mikro-vervaardiging en gebruik van drank.
 
Tot dusver het slegs Gauteng en die Oos-Kaap provinsiale drankwette gepromulgeer en derhalwe is die bepalings van die Ou Wet nog steeds in werking in verband met die mikro-vervaardiging en kleinhandelverkope van drank in die orige 7 provinsies.
 
Die Departement van Handel en Nywerheid van die Wes-Kaap, onder wie die Wes-Kaapse Drankraad resortee,r is tans besig om ʼn konsepdrankwet op te stel met die oog daarop om dit gedurende Oktober in werking te stel.
 
Moet ek registreer as vervaardiger of verspreider?
 
ʼn Vervaardiger moet slegs registreer onder die Nuwe Wet as hy meer as 4 miljoen liter wyn per jaar vervaardig.
 
ʼn Produsent hoef slegs te registreer as ʼn verspreider as hy van voorneme is om wyn te versprei wat nie deur homself vervaardig is nie. Die rede hiervoor is dat die Nuwe Wet ʼn mikro-vervaardiger toelaat om wyn te vervaardig en die wyn wat deur hom vervaardig is te versprei aan lisensiehouers en ook te verkoop aan die publiek.
 
Ingevolge die Nuwe Wet sluit vervaardiging ook bottelering in.
 
ʼn Produsent sal dus slegs hoef te registreer as ʼn vervaardiger indien hy van voorneme is om reeds gebottelde wyn te verkoop of wyn in stortmaat te koop en dit te verkoop sonder om dit te botteleer.
 
Hoe gaan die Wes-Kaapse Drankwet my besigheid raak?
 
Die Wes-Kaapse Drankwet maak voorsiening vir die omskepping van produsentelisensies of spesiale lisensie (buite-verbruik) gehou deur produsente in lisensies vir die vervaardiging en verkoop van drank vir gebruik op ʼn perseel anders as die gelisensiëerde perseel.
 
Dit is egter belangrik om daarop te let dat die Wet geen voorsiening maak vir die omskepping van die reg wat ʼn produsent het om sy wyn sonder ʼn lisensie te verkoop onder die vrystelling vervat in artikel 3(1)(j) van die Ou Wet nie.
 
Kragtens hierdie vrystelling mag ʼn produsent wyn aan lisensiehouers verkoop sonder ʼn lisensie solank die wyn vervaardig is van druiwe geproduseer op grond wat aan hom behoort of wat hy huur of van ingekoopte druiwe en solank die wyn vervaardig is in ʼn kelder op daardie grond of grond wat hy huur.
 
In die praktyk het dit beteken dat baie wynprodusente hulle wyn aan restaurante, groothandelaars, hotelle, wynwinkels en ander lisensiehouers verkoop het sonder ʼn dranklisensie.
 
Aangesien hierdie vrystelling nie ʼn "lisensie" is nie wat omskep kan word in ʼn gepaste lisensie onder die Wes-Kaapse Drankwet nie, sal sodanige produsente na inwerkingtreding van die wet nie meer in staat wees om hulle wyn aan ander lisensiehouers te verkoop nie.
 
Sodanige produsente sal òf ʼn aansoek vir ʼn dranklisensie onder die Wes-Kaapse Drankwet vir ʼn lisensie vir die vervaardiging en verkoop van drank op ʼn perseel elders as die gelisensieerde perseel in te dien òf aansoek doen onder die Ou Wet welke lisensie dan omskep kan word sodra die Wes-Kaapse Drankwet inwerking tree.
 
Watter ander bepalings van die Wes-Kaapse Drankwet is relevant?
 
Die wet maak voorsiening daarvoor dat aansoeke vir dranklisensies wyer geadverteer word as wat tans die geval is.
 
Benewens die advertensie in die Staatskoerant wat tans vereis word, sal dit ook van aansoekers vereis word om advertensies te plaas in twee plaaslike koerante. Kennisgewings sal ook aangebring moet word op die beoogde perseel.
 
Aansoeke vir dranklisensies mag ook ingedien word by die plaaslike munisipaliteite wat as agente van die Drankraad aangestel sal word.
 
Gemeenskaps-polisiëringforums en drankforums sal ʼn groter rol speel en sal in gevalle waar besware teen dranklisensies ingedien word optree as mediators om ʼn oplossing te probeer verkry.
 
Die Wet maak verder daarvoor voorsiening dat die ure van drankverkope bepaal word deur die plaaslike munisipaliteit se plaaslike wetgewing - wat klaarblyklik die verkoop van drank op Sondae en publieke vakansiedae raak.
 
Wanneer moet ek aansoeke indien in terme van die ou Wet (en die Wes-Kaapse Drankwet)?
  • wanneer besigheid verkoop word.
  • wanneer ʼn nuwe maatskappy opgerig word om die wynverkope te hanteer.
  • wanneer die aandeelhouding in die maatskappy wat die lisensie hou verander
  • As die houer van ʼn produsentelisensie druiwe wil inkoop.
  • As die lisensiehouer wyn op Sondae en publieke vakansiedae wil verkoop.
  • Wanneer ʼn proelokaal uitgebrei of verander word.
  • Wanneer ʼn binne-verbruik perseel - soos ʼn koffiewinkel, restaurant, unksielokaal of gastehuis - op die plaas gevestig word.
Ek vervaardig slegs ʼn klein hoeveelheid wyn en verkoop nie aan die publiek nie. Het ek ʼn dranklisensie nodig?
 
Vir solank die Ou Wet van krag bly in die Wes-Kaap mag sodanige produsent wyn verkoop onder die vrystelling vervat in artikel 3(1)(j) waarna hierbo verwys word.
 
Die Wes-Kaapse Drankwet sal egter vereis dat ongeag die hoeveelheid drank vervaardig, ʼn lisensie benodig word vir beide die mikro-vervaardiging asook die verkope van wyn selfs aan lisensiehouers
 
Ek is besig om my besigheid te herstruktureer vir die doel van Swart Ekonomiese Bemagtiging. Hoe raak dit my dranklisensie?
 
SEB-transaksies behels dikwels skeiding van die eienaarskap van die grond, die produksie van druiwe en die vervaardiging en die verkope van wyn.
 
Dit mag ook ʼn verandering in die aandeelhouding in maatskappye of ledebelang in beslote korporasies wat dranklisensies hou insluit.

Die herstrukturering van die besigheid van ʼn wynprodusent of ʼn verandering in die aandeelhouding in ʼn entiteit wat ʼn dranklisensie hou mag die geldigheid van sodanige lisensie affekteer.
 
As die houer van ʼn produsentelisensie byvoorbeeld nie langer die druiwe produseer of die wyn vervaardig nie, sal sodanige houer nie meer geregtig wees om die houer van ʼn produsentelisensie te wees nie.
 
Dit mag derhalwe nodig wees om spesifiek advies oor die implikasie van ʼn betrokke transaksie te verkry.
 
Ek is ʼn produsent of groothandelaar wat ʼn kennisgewing van omskepping ingedien het ingevolge die Nuwe Wet. Wat nou?
 
Die Nuwe Wet vereis dat die houer van registrasie as ʼn vervaardiger of verspreider om ʼn hersiening van die lisensievoorwaardes van stapel te stuur deur die voorgeskrewe vorms en inligting wat daarin vereis word aan die Nasionale Drankowerheid te stuur voor 13 Augustus 2005.
 
Die kennisgewing vereis gedetailleerde inligting met betrekking tot die persone wat ʼn belang het in die houer van die registrasie, sodanige persone se belang in die drankhandel, die ondernemings van die houer met betrekking tot Swart Ekonomiese Bemagtiging en die bevegting van drankmisbruik, die houer se bydrae tot werkskepping, diversiteit van eienaarskap ens.
 
Ek wil graag ʼn proelokaal/restaurant/koffiewinkel/funksielokaal/gastehuis op my plaas open. Wag ek vir die Wes-Kaapse Drankwet?
 
Soos met alle nuwe wetgewing word dit verwag dat daar probleme sal wees met die inwerkingtreding van die Wes-Kaapse Drankwet onder andere as gevolg van die betrokkenheid van munisipaliteite wat nie almal ewe effektief funksioneer nie.
 
Die betrokkenheid van Gemeenskaps Polisieringsforums en Drankforums mag ook die tydperk waarin aansoeke finaliseer word verleng.
 
Dit mag derhalwe raadsaam wees dat aansoeke eerder ingedien word onder die Ou Wet en sodanige lisensies omgeskakel word sodra die Wes-Kaapse Provinsiale Drankwet inwerking tree.
 
Moet die perseel voltooi wees voordat ek my aansoek kan indien?
 
ʼn Aansoek kan ingedien word sodra planne van die gebou wat gebou moet word of verander moet word beskikbaar is.
 
Die Drankraad oorweeg die aansoek op die beskrywing en plan van die perseel en reik ʼn voorwaardelike magtiging uit.
 
Dit is in effek ʼn voorwaardelike lisensie wat bevestig dat die lisensie uitgereik sal word sodra die perseel voltooi is ooreenkomstig die plan ingedien.



 
Use of this website is subject to our terms of use.
Website by Connexity