|
Keer só dat fonteintjie in jou boedel opdroog |
 |
by
Wynand Prins & Wilani Voges
|
Published
2006/12/01 12:00:00 AM
(Viewed
659
times) |
Een van die grootste probleme nadat iemand te sterwe kom, is die
beskikbaarheid van fondse en kontantvloei in die boedel. Maar dit kan
voorkom word met deeglike boedelbeplanning - die enigste manier om te
verseker dat jou naasbestaandes die grootste voordeel uit jou erflating
trek.
Lewensversekeringspolisse is een van die belangrikse meganismes om kontantvloei in ’n boedel te bestuur – ongeag die doel waarvoor jy dit aanvanklik uitgeneem het.
Wanneer die eksekuteur jou boedel beredder, is daar verskeie skulde en uitgawes wat betaal moet word. Indien daar egter nie genoeg kontant beskikbaar is hiervoor nie, kan dit nodig wees om van jou bates te moet verkoop om hierdie koste te dra.
Dis dalk die enigste uitweg, maar nie noodwendig die beste nie. Gaan ’n bate nou die beste prys moontlik haal (bv ’n eiendom in ’n kopersmark)? Of dalk bly ’n erfstuk in die slag wat jy baie eerder vir die nageslag sou wou bewaar het.
Danksy die aard van sekere lewenspolisse en hoe hulle uitbetaal word, is dit ’n baie effektiewe oplossing om die beskikbaarheid van kontant in die boedel te verseker.
Afhangende van hoe jy dit spesifiseer, kan die polis aan ’n persoon uitbetaal word of aan die boedel (waar dit volgens jou testament verdeel of aangewend word). Word dit aan ’n persoon uitbetaal, is dit nie deel van die boedel nie en kan jy ook eksekuteursfooie spaar.
Maar dit kan kortsigtig wees om ’n polis ter wille van hierdie besparing buite die boedel te laat. Veral as daar dalk nie genoeg kontant in die boedel self beskikbaar is om die nodige uitgawes te betaal nie. Onderhandel eerder met die eksekuteur oor sy fooie.
Een aspek waaroor jy egter nie kan onderhandel nie, is die belasting wat op so ’n uitbetaling gehef word. Sekere polisse word volgens wetgewing as ’n bate ingesluit wanneer die boedelbelasting bereken word – ongeag wie of wat die begunstigde is.
Nietemin is daar voorsienings en uitsluitings, soos onder meer ’n korting vir alle premies wat ’n begunstigde vir die oorledene se lewenspolis betaal het.
En waar ’n eggenote volgens die voorwaardes van ‘n huwelikskontrak op die polisopbrengs geregtig is, is dit van belasting uitgesluit. So ook indien die polis uitgeneem is om ’n sakebelang te beskerm, maar dan onderhewig aan sekere voorwaardes.
Omdat ons almal se finansiële behoeftes, persoonlike oorwegings en omstandighede verskil, is dit wys om professionele hulp te kry met jou boedelbeplanning en so te verseker alle aspekte word tot jou erfgename se voordeel in berekening gebring.
Vir meer inligting oor Cluver Markotter Ingelyf se dienste rondom boedelbeplanning, die opstel van testamente en die bereddering van boedels, kontak Wynand Prins of Wilani Voges by tel. (021) 808 5600. • Hierdie artikel is bedoel as ’n algemene bespreking en nie as regsadvies nie. Vir persoonlike advies moet ’n professionele regsadviseur geraadpleeg word.
|
|
|