Jy kan dit voorkom deur deeglike boedelbeplanning en dus so te verseker dat boedelbelasting tot die minimum beperk word binne die riglyne en voorskrifte van die Boedelbelastingwet.
Net onlangs is die perk verhoog vir die toelaatbare aftrekking wat aan alle boedels toegestaan word voor die berekening van boedelbelasting: van R1,5 miljoen na R2,5 miljoen. As jou boedelplanne voor hierdie wysiging opgestel is, kan dit jou baat om dit nou te hersien en aan te pas.
Maar hoe groot is Jan Taks se hap? In Suid-Afrika word boedelbelasting teen ‘n vaste koers van 20% gehef op die belasbare deel van die boedel, bereken op die sterftedatum. En dan kan ook ander belastings geld, soos kapitaalwinsbelasting, hereregte of net gewone inkomstebelasting?
Deel van die boedelbeplanningsproses behels spesifiek dat seker gemaak moet word daar is genoeg beskikbare fondse om hierdie belasting bykomend tot die ander skulde en uitgawes te kan betaal – en dat jou erfgename darem nog iets uitkry ook.
Daardie woonstel wat jy verlede jaar vir ’n belegging gekoop het, is dalk vandag R400 000 werd. Maar wanneer jy oor tien jaar te sterwe kom – die datum wat jou belasbare bates bereken word – lyk die prentjie waarskynlik heelwat anders.
Juis daarom is dit so belangrik om die toekomstige groei van bates by die beplanning in te sluit, én dat enige planne wat nou gemaak word tred hou met praktiese implikasies. Uiteindelik moet die administrasie en afhandeling van jou boedel immers glad verloop en jou erfgename maklik toegang tot die bates kan kry.
Daar is egter nie ‘n eenvoudige formule wat bloot deur die bank op alle boedels toegepas kan word vir die regte oplossing nie. Individuele voorkeure, die boedels (individuele bates) self én boedelbeplanning is ook heeltemal te persoonlik daarvoor, en die ouderdomme en behoeftes van erfgename verskil net te veel.
Tog is daar sekere basiese beginsels wat in boedelbeplanning gebruik word, onder meer die skuif van groeiende bates na ’n trust, opeenvolgende vruggebruik of die toeken van sekere voordele aan die langslewende eggenoot. Maar as selfs ’n klein detail misgekyk word, kan dit jou erfgename duur te staan kom.
Dit is dus wys om professionele hulp te kry met jou boedelbeplanning, mense met ‘n indiepte kennis van die regsaspekte en wat simpatiek staan teenoor jou persoonlike behoeftes en omstandighede.